Magteld

ENGLISH

Wie is ek as lewensafrigter?

Vir my is Lewensafrigting (Life Coaching) om in diens te staan van my kliënt.  Ek wil my teenwoordigheid deel met hart, verstand en Gees in ‘n gesamentlike reis tot die verwesenliking van jou persoonlike potensiaal.

Deur Lewensafrigting wil ek graag vir jou, my kliënt, deur ‘n proses lei sodat jy jouself kan bemagtig en jou volle potensiaal ontwikkel.  Deur hierdie begeleide proses word jy gelei na jou doelwitte, oorkoming van lewensuitdagings en om jou lewensprankel terug te kry!

Wanneer ons bemoedig en afrig met ‘n gees van deernis, sagtheid en vriendelike leierskap help ons ander om weer die legkaartstukke van hul lewens in God se raadsplan te plaas.  Kosbaar, verreikend en bemoedigend is die trefwoorde, ongeag wat dit vra.  Soos Matthew Adams tereg gesê het:  “Bemoediging en aanmoediging is die suurstof vir die siel”.

Ek sien uit daarna om jou te verwelkom by ‘n wonderlike en dinamiese reis van self-ontdekking en persoonlike groei – vanuit ‘n Christelik gefundeerde perspektief.  Ek wil jou help om van inspirasie na aksie te beweeg en stap graag die pad tree vir tree saam met jou.  My passie vir die hart van DIE VROU is die sleutel tot die ontluiking van my kliënte se menswees. Kom ons pak hierdie reis aan!

“Innerlike transformasie vir uiterlike trefkrag”- Angelique du Toit

Ek is 21 geseënde jare getroud met Nic Arnold, my rots en steunpillaar wat my vlerke gee.  Ons het drie pragtige kinders, Henco, Jacques en Riané. Ons bly in Pretoria.

Kwalifikasies en ondervinding

Ek is ‘n gesertifiseerde en geregistreerde Lewensafrigter (COMENSA Coaches & Mentors of South Africa) Cum Laude en beskik oor ‘n BA-graad met hoofvakke, Bedryfs-en Personeelbestuur, Bedryfskommunikasie en Sielkunde.  Verder beskik ek oor ‘n Honneurs BA-graad in Bedryfsosiologie (Arbeidsverhoudinge) (PU vir CHO) Cum Laude,  asook oor ‘n Nagraadse Diploma in Tersiêre Onderwysbestuur (M+4) (Unisa) Cum Laude.  As Dosent het ek 20 jaar ondervinding op tersiêre onderwys vlak.  Ek  is ook betrokke as Lewensafrigter by Bet-Seber, Huis van Hoop – ‘n wegbreek huis vir emosionele genesing van vrouens.

Kontak my vir jou eerste gratis konsultasie van 45 minute.  My CV en getuigskrifte is aan my kliënte beskikbaar op aanvraag.

“En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee”. (Eségiël 36:26)

Magteld Arnold